ISRAEL EN CHRISTUS
Uitgangspunt:
Alle mense is na die beeld van God geskape;
Alle mense het daarom ’n godsbegrip;
Alle mense het in sonde geval weens die ongehoorsaamheid
van Adam en Eva in die paradys;
Alle mense het egter nog ’n gewete en hunker in hul staat
van vervreemding na die goddelike. Hulle raak maklik betrokke by afgodsdiens.
God is Een (monoteïsme), maar openbaar Homself op grond
van sy liefde vir sy gevalle beelddraers, in drie Persone: die Vader as Skepper,
die Seun as Middelaar tussen God en mense en die Heilige Gees wat as
Verteenwoordiger van die Godsryk by die mense inwoon (1 Kor. 3:16).
As Vader/Skepper ontferm God Hom oor die vervreemde mense
en stel ’n goddelike plan in werking wat daarop sal uitloop dat sommiges met
God versoen sal word en vir ewig in sy teenwoordigheid sal wees.
Dié herstelproses word langs die weg van ’n genadeverbond
bemiddel – onder andere woordeliks/verbaal met Adam en Eva, met Noag, met
Abraham, Isak en Jakob (Israel), met Moses, met Dawid en met Dawid se
nakomeling, die Messias, ’n spruit uit die stomp van Isai. In dié drama van
verlossing speel Israel as uitverkore volk van die Here ’n prominente rol.
Volgens Jesaja 2:2 sou die nasies van die wêreld sien dat Israel voorspoedig is
as die volk van God en sal hulle gevolglik na Jerusalem stroom om só ook deel van
God se koninkryk te word. “Al die nasies sal daarheen stroom, baie volke sal
daarnatoe gaan en sê: Kom laat ons op trek na die berg van die Here toe, na die
huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan
lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.”
Uit swaarde sal ploegskare gemaak word. Daar sal vrede wees (Jes. 2:2-5, sien
ook Eseg. 47).
God roep profete om hierdie hele proses van verlossing
aan Israel te verduidelik sodat hulle hul rol as Kneg van die Here suksesvol kan
vervul. Maar as gevolg van die verbondsvolk se ongehoorsaamheid word hulle in
ballingskap weggevoer en onder die volkere versprei. Die kneg-taak van Israel
gaan nou oor op ’n Nakomeling van Dawid (enkelvoud - sien Paulus hieroor in Gal
3:15-20) wat volgens Jesaja 53 deur die Jode verag en verstoot sou word. Hy sal
egter die sonde van die volk op Hom neem. Hy sal deurboor word en deur sy wonde
sal daar genesing vir die nasies kom. Hy is soos ’n lam na die slagplek geneem.
Om dit alles te kroon was dit die wil van God, want die Kneg het sy lewe as
skuldoffer gegee en só het God sy doel bereik.
Mense wat hierdie verhaal hoor en dit glo, sal met God
versoen word. “My Dienaar, die Regverdige, sal baie mense regverdig maak: Hy
sal die straf vir hulle sonde dra” (Jes. 53:11).
Jesus kom uit die geslag van Dawid (Mat 1:1). Hy is
sagmoedig en ry op ’n donkie. Hy betaal die losprys vir die sonde van die
mensdom waar as Hy as die Lam van God aan die kruis op Golgota hang. Hy staan
na drie dae op uit die dood en ’n nuwe tempel verrys waarvan Hy die hoeksteen
is en almal wat in Hom glo die lewende stene. Paulus as Fariseër sien die
verband tussen Jesus en die Kneg van die Here in (Jes. 53) en begin die bouwerk
aan die Kerk van Christus, nie net as die nuwe tempel nie, maar ook as die nuwe
Israel van God wat bestaan uit Jode en heidene wat Christus deur die geloof
aangeneem het.
Die boek Handelinge vertel die verhaal van die uitdra van
die versoeningsboodskap aan die nasies. Paulus sê: ”Iemand wat aan Christus
behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is
die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen ... ons smeek
julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het” (2
Kor. 5:20).
Jesus is die Bruidegom wat sal kom om sy bruid (die kerk
wat bestaan uit Jode én heidene wat in Hom glo) te kom haal om vir ewig in die
Nuwe Jerusalem te woon. Die laaste boek van die Bybel toon aan hoé die stad sal
lyk en hoe die bruid sal lyk. Alles is nou herstel, soos in die Tuin van Eden –
ook die Boom van die Lewe wat twaalf keer per jaar vrugte dra is daar en sy
blare bring genesing vir die nasies (Openb. 22:2).
OPMERKINGS:
1. Paulus
se verduideliking van die verhouding tussen Israel en die Kerk (Rom 11:16-24):
Hy gebruik die beeld van ’n mak olyfboom waar party van die takke uitgekap is
en waar nuwe takke van ’n wilde olyfboom tussen die oorblywende takke ingeënt
is. Omdat hulle nie geglo het nie is die mak boom se takke uitgekap en omdat
die wilde takke geglo het, is hulle op die mak stam ingeënt. God sal egter die
takke wat afgekap is weer op hul eie stam “terug ent” as hulle glo. Dit is
soveel makliker om ’n mak tak op sy eie stam terug te ent as om ’n wilde loot van
buiteaf téén sy grein in, in te ent. Die Christelike Kerk bestaan dus by grasie
van die stam van die mak olyfboom. ’n Gedeelte van Israel is verwerp sodat
heidene saam met Jode wat Christus se versoeningsdaad aanvaar, deel kan kry
aan “The World to come.”
2. Gelykenisse
van Jesus wat op Israel betrekking het: Die Bruilof (Mat 22). ’n Koning berei ’n bruilofsfees vir sy seun.
Hy stuur slawe uit om die genooides na die maaltyd te roep, maar hulle wil nie
kom nie. Toe sê hy vir sy slawe: “Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar
die genooides was dit nie werd nie. Gaan nou uit na die straathoeke en nooi
soveel mense as wat julle teenkom na die
bruilofsfees toe.” Hulle het toe slegtes sowel as goeies bymekaargemaak en die
feessaal het vol gaste geword. (Sien ook die twee ander gelykenisse (Mat
21:23-46) wat Jesus by dieselfde geleentheid aan die Jode vertel het toe hulle by
Hom oor sy Messiasskap navraag gedoen het). Hy wou hulle soos ’n hen haar
kuikens bymekaarmaak, maar hulle wou nie (Mat 23:37).
3. Die”
hele” Israel: Rom 11:26. God het ’n
verharding oor ’n deel van Israel laat kom wat duur totdat die volle getal
uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het, “en op hierdie manier
sal die hele Israel gered word”. Volgens Paulus is dit die volle getal van Jode
en heidene wat deur God uitverkies is (“die hele Israel”). Dus, God het nie net
Jode uitgekies nie, maar déur hulle, ook die heidene.
4. ’n
Identiteitsverandering: Christene én Jode ervaar ’n identiteitsworsteling.
Die Kerk is Israel en Israel is die Kerk (saamgestel
deur Jode en heidene wat saam op één stam ingeënt is). ’n Ware Jood is iemand wie
se hart deur die Gees van God besny is (Rom 2:28,29), en sondaars word deur
Christus se opstanding lewende stene
van ’n tempel wat binne 3 dae opgebou word.
Sien die toesprake aan Joodse gehore van Petrus (Hand 2:14), Paulus (Hand 22:3)
en Stefanus(Hand 7).
5. Die
oorblyfsel: Slegs ’n gedeelte van Israel, naamlik die Oorblyfsel
(Remnant) sal ’n rol in die
verlossingsdrama speel (Jes. 1:8,9; 10:22; 33-34; Eseg. 6:8). Die Messias/Kneg/Nuwe-Israel
sal uit die stomp van Isai (Dawid se
vader) gebore word en “die Gees van die Here sal op Hom rus”. Daar sal vrede
wees en die aarde “sal vol wees van die kennis van die Here, soos die see vol
water is” ( Jes. 11:9). Die geslagsregister van Mat 1 toon aan dat Jesus in die
geslagslyn van Isak , Tamar, Ragab, Isai en Dawid gebore word.
6. Die
Kneg van die Here (Jes. 42,49,50,53): Die Here gaan sy volk én die heidennasies
verlos deur ’n “Kneg”. Uit talle
verwysings in die Ou Testament word slegs enkeles genoem wat daarop dui dat
Christus die Een is wat verlossing bring: (i) Abraham moet die enigste seun wat
hy lief het op Moria-berg gaan offer (Gen22). Dit is ’n voorskou van God wat sy
eie Seun offer vir die sonde van die wêreld; (ii) Hy is ’n lydende kneg wat
“deurboor” word en wat ons smarte op Hom geneem het (Jes. 53). Die offers wat
die volk moes bring (Levitikus) was ’n voorskou van wat op Golgota sou gebeur;
(iii) Jou Koning sal na jou toe kom, Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie (Sag
9:9, Mat 21).
7. Die
tempel in Jerusalem: Twee tempels in Jerusalem is afgebreek deur vyandelike
magte. Die “Derde Tempel” moet nog gebou word. Hier verskil die Joodse en
Christelike opvatting: die Jode glo dat so ’n tempel in Jerusalem gebou sal
word volgens die opset van Esegiël 40-48. Jesus en die Nuwe-Testamentiese
skrywers sien dit anders: Jesus sê dat Hy die tempel sal afbreek en ’n nuwe een
binne 3 dae weer sal oprig, verwysende na sy dood en opstanding ná 3 dae. Hy sê
ook dat Hy sy Kerk op n rots sal bou – naamlik die rots van Petrus se getuienis
dat Hy die Seun van God is (Luk. 9:20). Hiervolgens verwys Eseg. 40-48 na ’n
geestelike tempel waarvan Hy die oprigter is en waarheen die nasies sal stroom
vanaf die uithoeke van die wêreld (Jes. 2:2). Die naam van die tempel/stad sal
wees: “Die Here is daar” (Eseg. 48:35). Die offers wat dáár gebring word, is
dié van ’n gebroke hart en ’n verslae gees (Ps. 51:19).
8. Die
naam Israel: In Genesis 32 lees ons
hoedat Jakob se naam deur God verander word na “Israel”, toe hulle by die
Jabbok rivier “gestoei” het. Jakob kry die oorhand! Hoe? Volgens Hos. 12:5 het
Jakob gehuil. Miskien kon God dit nie weerstaan nie en laat Jakob “wen” – maar
nie voordat Hy hom ’n herinneringsteken gegee het nie: Hy slaan hom op die
heupsenuwee sodat hy God vasgryp/omhels om staande te kan bly. God noem hom nou
“Israel”. Dit beteken “God voer die stryd”. Israel se krag word in swakheid
(afhanklikheid) volbring.
9. Die
Jode wat vandag leef word veral aangespreek deur die toesprake van Petrus op
Pinksterdag (Hand 2:14-36, vgl. Joël 2:28-32) en van Paulus (Hand 22:3-23:6) en
Stefanus (Hand 7:2-53), almal Jode wat verduidelik hoekom hulle Christene
geword het. Sien ook Jesus se bekende toesprake in Mat 5-7 en 24-25.
10. Vergifnis:
Die Jode (Hand 2:23) en die Romeine (heidene) wat Jesus gekruisig het (“laat sy
bloed oor ons en ons kinders kom”, Mat 27:25) verkry op dieselfde wyse
vergifnis: deur geloof in Christus se vrywillige offer aan die kruis.
11. Die
wet: Paulus verduidelik in Gal 3 die verhouding tussen wet en geloof. As
ons staatmaak op die onderhouding van die wet, val ons onder die vloek, want
daar staan geskrywe: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen
wat in die boek van die wet geskrywe
staan nie” (Deut. 27:26). Die genadeverbond van God was al geldig met Adam, met
Noag, met Abraham – die wet (Moses) het eers 430 jaar later gekom, met net een doel
naamlik om die volk van hulle sonde te oortuig en as tugmeester te dien totdat
Christus gekom het. Daarna word ons deur genade gered en nie meer deur die wet
nie. En tog dien die wet van God nog vir ewig as die reël van dankbaarheid as
uitdrukking van God se wil vir ewig. Miga 7:18-20: “Wie is ’n God soos U? U
vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie.
U. Bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon,
Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. U
Sal getrou wees teenoor Jakob, liefde betoon aan Abraham, soos U in die voortyd
aan ons voorvaders met ’n eed beloof het”.
12. Die
diere-offers: Hierdie offers was oor eeue heen vir oud-Israel ’n bloedige voorskou
van hoe die verlossingsdrama in die toekoms sou afspeel. Die doodsengel van Eksodus
12 het by dié huise verbygegaan (Pasga=pass over) waar daar bloed aan die deure
was. Soos hulle die paaslam moes slag moes hulle uiteindelik ook die Lam van
God slag. Maar só het die vergifnis moontlik geword: die bok met sonde moes die
sonde van die volk na ’n woeste land wegdra – vir Asásel (Lev. 16). So hoor ons
later (in Hebreërs 9 en 10): “Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die
weldade wat sou kom ...” En: “Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander
offer in die plek daarvan te stel”. En uiteindelik: “Waar die sondes vergewe
is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.” Die gemeente vergader nie meer
rondom die altaar nie, maar rondom die Woord wat vlees geword het.
13. Die
nuwe verbond: Die sluiting van die ou verbond by die rokende Sinaiberg was
angswekkend en die volk het gebewe van vrees (Ex 19). Die profeet Jeremia
kondig egter ’n nuwe verbond van God met
Israel en Juda aan (Jer. 31): As die Messias kom, sal die wet in hul harte
geskryf word en hulle sal van binne-uit God se wil doen. “Ek sal hulle
oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie” (Jer. 31:34).
Honderde jare later, die dag vóór sy kruisiging se Jesus by die instelling van
die nagmaal: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir
julle vergiet word” (Luk. 22:20).
Die Christene se Bybel sluit af met hierdie woorde van
die opgestane Jesus: “Kom ... en elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die
water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!”
Baie Jode en heidene wat hierdie woorde hoor, glo dit.
PJ le Roux, Pretoria,
Maart 2025